In die beleggingswêreld is daar nie een produk wat alle kliënte pas nie. ‘n Knap adviseur sal ‘n plan aanbeveel wat uitgewerk is volgens jou persoonlike omstandighede en aan jou behoeftes voldoen. 

 

Daar is geen kortpaaie nie. ‘n Adviseur wat sy sout werd is, sal sorg dat geskikte beleggings voorgestel word en dat dit die kern van jou finansiële plan sal wees.

 

Wat beteken “geskiktheid” en hoe word dit gemeet?

Die Geskiktheidsreël (artikels 8 (1) (a), (b) en (c) van die Algemene Gedragskode van FAIS) bepaal dat alle finansiële adviseurs verplig is om seker te maak dat hul aanbevelings die spesifieke omstandighede van elke kliënt pas.

 

Geskiktheid is nie net die bepaling of ‘n kliënt ‘n versigtige, gebalanseerde of aggressiewe belegger is nie.

 

Geskiktheid (ook beskryf as toepas-likheid) is veel meer as dit as dit oor beleggings gaan.

 

Dit is die mate waarin die produk of diens wat aanbeveel word, ooreenstem met die kliënt se finansiële situasie en die vlak van risiko-verdraagsaamheid.Enige finansiële beplanning moet tred hou met die kliënt se finansiële persoonlikheid, sowel as sy/haar finansiële behoeftes en doelwitte.

 

Elke belegger is uniek en die omstandighede van elk moet bepaal word deur middel van gesprekvoering en die gebruik van risikoprofiel-instrumente. Die besprekings is bepalend en die instrumente baie visueel, wat kliënte in staat stel om duidelik te sien in watter mate hulle hul kapitaal blootgestel is aan risiko en wat die moontlike opbrengste is.

 

Hou in gedagte dat die ingesteldheid teenoor risiko, sowel as die geldelike verliese, skielik deur kwesbaarheid verander kan word. ‘n Belegger kan siekte, egskeiding of afdanking ondervind, en dit kan nodig wees om aanvanklike beleggingsbesluite oor ‘n tydperk te vertraag of selfs te verander om aan te pas by nuwe ontwikkelings.

Die beleggingsadvies moet dus tred hou met die kliënt se situasie. Om ‘n kwesbare kliënt te wees, is nie noodwendig ‘n permanente toestand nie en wanneer omstandighede verander, moet die finansiële advies daarvolgens  aangepas word.

 

Kwesbaarhede kan ná verloop van tyd na vore kom en kan die risikoprofiel van die kliënt verander. ‘n Knap en bedagte adviseur sal begrip hiervoor toon en dit nie veroordeel nie.

 

Om die saak  verder te kompliseer, kan lae risiko beleggings net soveel skade aan ‘n belegger se portefeulje aanrig as hoogs riskante beleggings.

 

Interessant genoeg is dat die geskiktheidsreël nie verliese insluit nie. Net omdat ‘n belegging “geskik” is, beteken dit nie dis noodwendig raadsaam of winsgewend nie.

Geskiktheid beteken nie outomaties risikovry nie. Net so is onsuksesvolle beleggings nie noodwendig onvanpas nie. Niemand kan die styging en daling van die mark kategories voorspel nie, en daarom kan finansiële verlies ook by “geskikte” beleggings voorkom.

 

Riskante beleggings kan groter op-brengste hê, maar jy kan ook alles verloor. Die realiteit is dat die meeste kliënte finansiële behoeftes het wat onmoontlik is om aan te spreek. Slegs 6% van Suid-Afrikaners sal onafhanklik kan aftree. Oor die 94% sal nie genoeg kapitaal hê om af te tree nie. Sulke kliënte benodig eintlik ‘n onrealistiese of riskante belegging, maar risikogewys is dit absoluut ongeskik.

 

Geskiktheidsreël

Die geskiktheidsreël vereis bloot dat ‘n finansiële adviseur ‘n redelike maatstaf moet volg as ‘n belegging of strategie aanbeveel word. Die adviseur moet die belegging deeglik verstaan en waarom dit die belegger in daardie stadium pas.

 

Dit volg dus dat die verkoop van ‘n annuïteit (fondse slegs toeganklik op ouderdom 55) aan ‘n jong kliënt wat redelike toegang tot geld benodig, onvanpas sal wees en op bedrog of nalatigheid kan neerkom. Net so kan die advies om in riskante beleggings te belê, onvanpas wees vir ‘n konserwatiewe belegger. Onkunde is geen verskoning nie.

 

Hoe word geskiktheid verseker?

‘n Risikoprofielontleding word gedoen om die belegger se emosionele verdraagsaamheid teenoor risiko te bepaal, asook sy of haar kapasiteit vir risiko; persepsie van risiko; ideale batetoewysing en die verwagting van opbrengste.

 

‘n Nommerpas-plan kan geskep word deur kennis te neem van die kliënt se standpunte, onsekerhede en aptyt vir risiko. En ook aan aspekte soos die kliënt se behoefte aan, onder meer, kontant.

 

Die kern van die plan is gebaseer op die beginsels van die Behandel jou kliënt Billik (Reguleringsraamwerk wat deur die Finansiële Sektor Gedragsowerheid ingestel is) wat die kliënte voorop plaas en billikheid teenoor die kliënte nastreef.

 

Dit vereis ook dat beleggings oor verskillende bateklasse versprei moet word, soos aandele en eiendom; binne bateklasse verdeel word, soos buitelandse en plaaslike aandele; en ook in ‘n spesifieke bateklas versprei word soos klein, medium en groot aandele.

 

Hierdie plan moet op skrif uitgespel word met redes waarom die spesifieke strategie aanbeveel word en hoe dit voldoen aan die kliënt se beleggingsdoelwitte en voorkeure.

 

Die verskaffing van geskikte advies is een van die belangrikste uitkomste van die FAIS-wet. Artikel 16 van die Wet vereis spesifiek dat ‘n gedragskode opgestel moet word om te verseker dat kliënte in staat sal wees om ingeligte besluite te neem en dat hul behoeftes ten opsigte van finansiële produkte toepaslik en geskik aangespreek is.

 

Laai Nuusbrief af in PDF