Die regering se plan om by die pensioenbedryf in te meng, sal ‘n vernietigende impak op die aftreebedryf hê en baie mense se karige pensioen verder onder druk plaas.

 

Die ANC het in sy verkiesingsmanifes aangedui dat die regering aan plaaslike batebestuurders wil voorskryf om in sukkelende staatsondernemings, soos Eskom en die SAL, te belê.

 

Die beleid van “voorgeskrewe bates” beteken dat die ANC toegang sal he (kappie) tot gewone Suid-Afrikaners se spaar- en pensioengeld. Dit sal die opbrengste van pensioenfondse aansienlik verswak.

 

Die beleid is niks anders as verskuilde belasting of herverdeling van welvaart om nog geld vir die staat se besteding te kry nie. Dit beteken dat pensioenfondslede die gelag van korrupsie met hul swaarverdiende aftreegeld moet betaal.

 

Goue jare dalk koue jare

Spaar met die oog op aftrede gaan nie net oor hoeveel jy belê nie. Van kritieke belang is hoe jou aftreekapitaal bestuur word. Vir die meeste Suid-Afrikaners is hul aftreefonds hul grootste, of selfs enigste, belegging. Enige onverantwoordelike beleggingsbesluite sal hul aftrede moeilik maak.

 

Die oorgrootte meerderheid van Suid-Afrikaners sal nie in staat wees om onafhanklik af te tree nie. Daar word beraam dat segs sowat 6% daarin sal slaag. Dié syfer kan daal as mense vertroue in pensioenfondse verloor en dus nie gemotiveerd is om vir hulle aftrede te spaar nie.

 

Geldsondes op die aftreepad

Baie mense sal ook hul toegelate fondswaarde uit hul pensioenfondse of soortgelyke aftreefondse onttrek as die fondsbestuurders verplig word om swak beleggings te maak. Dit skiet die goue reël in die voet dat jy so lank as moontlik moet bly belê om die voordeel van saamgestelde groei te geniet.

 

Daar word baie na saamgestelde rente/groei verwys as die agtste wonder van die wêreld en die effek daarvan is iets wat ’n langtermynbelegging (soos ’n pensioenfonds) baie sterk kan beïnvloed. Onttrekkings, sonder om weer te belê, het ’n sterk negatiewe invloed op die pensioenfonds se waarde by aftrede en is die rede hoekom soveel mense nie die ware effek van saamgestelde rente ervaar en geniet nie.

 

Oud, maar nie koud nie

Ons lewensverwagting is vandag baie langer as etlike jare gelede. Die helfte van mans wat vandag 60 jaar oud is, behoort tot 85 te kan leef. Vroue wat tans 70 jaar oud is, kan tot ʼn ouderdom van 93 leef. Dis lang leeftye wat aansienlike beleggings verg om onderhoudend te wees. Baie afgetredenes onderskat hul lewensverswagting en meen hul fondse is voldoende.

 

Suid-Afrika is nie uniek nie. Wêreldwyd is die lewensverwagting besig om te styg. Die groeiende getal bejaardes, asook die finansiële nood van die meeste afgetredenes, beteken dat die poel van mense wat van ‘n staatspensioen afhanklik is, net groter gaan word en dat die versorging van afgetredenes in die toekoms ’n groot uitdaging vir regerings gaan wees.

 

Staat kan nie meer sorg nie

Die gewaarborgde pensioene wat ons ouers en voorouers van die staat en groot werkgewers ontvang het, bestaan nie meer nie. Jy moet vandag na jou eie belange omsien en seker maak jou fondse is voldoende. Het jy genoeg kapitaal bymekaar gemaak om te oorleef wanneer jy aftree?

 

Hoe bestuur die staat sy eie pensioen-fonds?

Die Vereniging vir Monitering en Bevordering van Staatspensioene sê die fonds (die grootste in die land met

1.27 miljoen aktiewe lede en 450 322 pensioentrekkers) het ‘n geraamde tekort van R469 miljard aan langtermynfinansiering. Die kontant-invloei in die 2018-boekjaar kon nie die uitbetaling van fondsvoordele ten volle dek nie. Die laaste aktuariële waardasie was in Maart 2016 en die fonds swyg oor waarom die waardasies nie betyds afgehandel word nie.

 

Die fonds het hoëprofiel-fiasko-beleggings soos in Steinhoff en die bankrot VBS Mutual Bank, gemaak en Eskom, Denel, Sanral en die bankrot Isibaya-projekte na willekeur gefinansier. Het die grootste vrees van staatsamptenare en die staat se afgetredenes nou waar geword?

 

Aftrede moet gekoop word

Aftrede kan slegs gekoop word terwyl ‘n mens so jonk as moontlik is en inkomste kan genereer. ʼn Veilige syfer vir die voorsiening vir aftrede is 25 maal die inkomste wat jy as afgetredene wil ontvang. Sou jy R200 000 per jaar as inkomste benodig, moet jy oor 25 x R200 000 = R5 000 000 se beleggings beskik.

 

Die pad na aftrede nie maklik nie

Onthou dat die reis na aftrede nie altyd maklik gaan wees nie. Dit verg baie talle opofferings, maar die bestemming sal dit uiteindelik die moeite werd maak.

 

Die gevolge van ons besluite word meestal eers later ervaar. Ons kan nie die horlosie terugdraai en daardie jare terugkry nie. Dit is waarom dit so belangrik is om uit die staanspoor die regte besluite te neem en aan te pas as die gety of die bewind verander.

 

 

Laai Nuusbrief af in PDF