Suid Afrika se 2019 begroting moet beoordeel word op grond van die wyse waarop dit groei bevorder het. Daar was ongetwyfeld positiewe elemente, maar Tito Mboweni, minister van finansies, se eerste begrotingsrede het nie werklik ‘n oplossing gebied om Suid-Afrika uit sy ekonomiese verknorsing te bevry nie.

 

Die het nie daarin geslaag om lewensvatbare ekonomiese planne bekend te stel en die positiewe boodskap te ondersteun wat president Cyril Ramaphosa tydens die opening van die parlement gelewer het nie.

 

‘n Geloofwaardige plan was nodig om groei te bevorder. Die afgelope tien jaar het Suid Afrika gemiddeld slegs 1,7% per jaar gegroei. Die syfer is baie laag, vergeleke met die meeste ander middel-inkomste lande en is ver verwyderd van die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan. Die plan se doelwit was om 5% per jaar se groei te toon en 500 000 werksgeleenthede per jaar te skep. Vandag is dit heeltemal onrealisties en selfs die ANC het besluit om dit tot net 275 000 werksgeleenthede per jaar te skaal.

 

‘n Jaar gelede het president Cyril Ramaphosa gemeen dat ‘n groeikoers van 3% haalbaar was. Dit is sedertdien na 1,7% verlaag en later aangepas na ‘n baie lae groei van 1,5%.

 

Een gevolg van die laer as verwagte groei is dat die begrotingstekort besig is om toe te neem. Die tekort vir 2018/2019 sal 0,2% hoër wees as die 4% wat in die mediumtermynbegroting voorspel is. Dit sal in die daarop-volgende jaar tot 4,5% styg en die skuld-tot-BBP-verhouding sal in 2023/2024 tot 60,2% styg.

 

Dit sal die eerste keer sedert 1994 wees dat die skuld tot BBP die vlak van 60% oorskry. Die afgelope tien jaar het ons skuld jaar na jaar net aanhou groei. Indien daar enige pogings was om die skuld te stabiliseer, het dit nie gewerk nie.  SA spandeer reeds meer as R1 miljard per dag aan rente op al sy skuld.

 

Die swak groei kan aan baie faktore toegeskryf word, soos onder meer dat die globale ekonomie besig is om te verlangsaam wat beteken Suid-Afrika voer minder uit. ‘n Ander belangrike faktor is dat ondernemings in staatsbesit voortdurend uit hul finansiële verknorsing gehelp moet word. Selfs nadat die minister aangekondig het dat die regering nie meer waarborge aan semi-staatsinstellings sal verskaf nie, was miljarde aan die herstrukturering van Eskom toegeken. Die regering moet egter steeds sy waarborge nakom wat in die verlede verskaf is.

 

‘n Omkeerplan van die semi-staatsondernemings kan die druk van graderingsagentskappe verminder en ook die rentekoerse van staatskuld verminder. Suid-Afrika het nie die hulpbronne om semi-staatsondernemings onbepaald te onderhou nie en die regering moet erken dat die huidige struktuur van die staat as enigste aandeelhouer iets van die verlede is. In die geheel gesien het die semi-staatsondernemings getoon dat hulle nie kan verander of by die nuwe finansiële omgewing kan aanpas nie.

 

Moody’s het gereageer op minister Mboweni se toespraak deur te sê dit “beklemtoon die regering se beperkte fiskale buigsaamheid te midde van ‘n uitdagende ekonomiese omgewing.”

 

Moody’s is geskeduleer om opgedateerde graderings in Maart uit te reik. As Suid-Afrika na sub-beleggingsgraad afgegradeer word, sal miljarde rand se effekte uit Suid-Afrika vloei. Dit is omdat die Citi World Government Bond Index nie toelaat dat batebestuurders  belê in lande met rommelstatus nie.

 

Om ekonomiese groei te bevorder en werk te skep, vereis ‘n fundamentele verandering in die ekonomiese beleid van Suid-Afrika. Die regering moet eerder die private sektor ondersteun omdat hulle die mense is wat regtig werk en groei skep. Die groeigedrewe voorstelle in president Cyril Ramaphosa se ekonomiese herstelplan is ook besig om momentum te verloor en dit is onwaarskynlik dat die land sy groeiverwagtinge sal verwesenlik.

 

Met die afspeel van die term “wit monopolie kapitaal” en die beskrywing van sakelui as kampioene het pres. Ramaphosa verlede jaar nouer bande met die private sektor begin smee. Die fiskus sal egter bly versleg tot tyd en wyl daar sinvolle aksie geneem word. Jy moet doen wat nodig is in ‘n kapitalistiese omgewing en eerlik wees met die vakbonde sodat hulle by konstruktiewe verandering kan aanpas en daaraan gewoond raak.

 

Is daar genoeg in die begroting gesê sodat die private sektor weer in Suid-Afrika gaan begin belê? Definitief nie. Daar is te veel onsekerhede, soos die onteiening van grond. Almal wag ook om te sien wat met die verkiesing gaan gebeur en of Suid-Afrika deur Moody’s afgegradeer sal word.

 

Laai Nuusbrief af in PDF