Suid-Afrikaners se gedagtes begin al hoe meer wegdwaal van besigheid en hul finansies na kusvakansies en samesyn soos die jaar sy einde nader.

 

Die versoeking om te bestee en die tyd te geniet, is gedurende die feestyd groot en as beleggers nie deeglik besin nie, sal hulle ‘n gulde geleentheid misloop om aanstaande jaar kontant van die SA Inkomstediens terug te kry.

 

Een manier om iets by Jan Taks te kry, is om ‘n gedeelte van jou bonus of spaargeld te gebruik om jou uittree-annuïteit (UA) aan te vul of in ‘n nuwe UA te belê.

 

Nie net sal jy jou belasting- aanspreeklikheid verminder nie, maar jy sal ook jou aftreegeld vergroot en in die proses saamgestelde belastingvrye groei verdien.

 

Mense wat gekonfronteer word met die vraag of dit beter is om belasting te betaal of om te spaar, sal sonder twyfel verkies om te spaar.  Dink dus betyds na oor die aansporing van die regering wat spaar wil aanmoedig.

 

Die SA Inkomstediens laat individue toe om tot 27.5% van hul jaarlikse inkomste belastingvry in aftreefondse soos UA te belê.  Die totale bydrae word tot R350 000 per jaar beperk.

 

As jy, byvoorbeeld, R500 000 per jaar verdien, sal jy R34 000 se bydraes tot jou UA kan aftrek. Pleks daarvan om belasting op R500 000 te betaal, sal jou inkomste nou met R34 000 verminder.

 

Jy sal dus net belasting op R466 000 betaal, wat ‘n besparing van sowat R12 000 beteken. ‘n Mens kan eintlik sê dat die regering R12 000 tot jou aftrede bydra.

 

‘n Verdere plusfaktor is dat ‘n vergroting in jou aftreefonds nie enige inkomstebelasting, dividendbelasting of kapitaalwinsbelasting tot gevolg het nie. Hierdie belastingaansporing help eintlik om spaar te bevorder.

 

Min tyd om belasting te spaar

As jy nog nie 27.5% van jou belasbare inkomste in die huidige belastingjaar bygedra het nie, het jy nog tyd tot 28 Februarie 2019 om dit toe te voeg. Jy het ook tot dan kans om in ‘n nuwe UA te belê om die belastingvoordeel te benut.

 

Maak altyd hierdie besluite met die hulp en leiding van ‘n finansiële adviseur. Op dié manier kry jy die beste opbrengs op jou beleggings.

 

Ecsponent bied ‘n verskeidenheid oplossings vir aftrede. Tree gerus in verbinding met ons geakkrediteerde adviseurs om só die belastingvoordele van jou spaargeld te benut.

 
Laai nuusbrief in PDF af