Afrika het die jongste bevolking in die wêreld en teen 2050 sal een uit elke vier werkende mense waarskynlik Afrikane wees.

 

Die grootte van die jeug in sekere Afrika-lande is verbysterend. In Niger is 50% van die bevolking, byvoorbeeld, onder die ouderdom van 15 jaar. Vandag is oor die 60% van Afrikane jonger as 25 jaar.

 

Hierdie demografiese dinamiek bring enorme uitdagings, asook geleenthede. Indien dit omsigtig ontgin en bestuur word, kan dit lei tot ‘n ekonomiese wonderwerk in Afrika wat die loop van die 21ste eeu sal bepaal.

 

Aan die ander kant kom sodanige ongekende demografiese groei nie sonder bepaalde uitdagings nie. Hierdie jeug moet gelei word om hul opvoedkundige en gesondheidsbehoeftes te verwesenlik en genoeg werk moet jaarliks vir hulle geskep word om die arbeidsmark te betree.

 

Die Britse Eerste Minister Theresa May het vroeër vanjaar tydens haar besoek aan Suid-Afrika daarop gewys dat Afrika teen 2035 sowat 20 miljoen werkgeleenthede moet skep, net om by te hou met die versnellende bevolkingsgroei op die kontinent. Dit is sowat 50 000 nuwe werksgeleenthede wat daagliks geskep moet word om werkloosheid op die bestaande vlak te hou. As dit nie realiseer nie, sal die negatiewe ekonomiese en omgewingsimpak, volgens May, reg oor die wêreld gevoel word.

 

Vroue speel ‘n kritieke rol

 

Die toekoms van ontwikkeling is egter nie net gewortel in die jeug nie, maar ook in vroue, volgens die Verenigde Nasies se Afrika Ontwikkelingsfonds.

 

Albei moet bemagtig word. Data oor armoeddinamika in Bangladesh toon dat vroue se bemagtiging ‘n bepalende faktor is of huishoudings uit armoede kan ontsnap en in staat is om armoede op die lang termyn te oorkom.

 

Aangesien vroue so ‘n belangrike rol in armoedeverligting speel, is dit belangrik dat hulle besluitnemingsmag het. Impakvolle en transformasie-ontwikkeling kan nie plaasvind as jeug en vroue nie ten volle geïntegreer en bemagtig word as agente van verandering in die ontwikkelingsproses nie.

 

Volgens Ann Bernstein van die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming, het mark-ekonomieë die afgelope drie dekades honderde miljoene mense uit armoede gelig. China het die regte resep gevolg deur maatskappye meer vryheid te gee en hulle te ondersteun om te groei en suksesvol te wees. Talle werksgeleenthede is geskep wat ongeveer 500 miljoen mense in die land uit armoede gered het. Indië volg nou ook hierdie resep om sy burgers op te hef. Maatskappye is die enigste rolspelers in die proses wat wins kan toon en belasting aan die staat verskaf sodat die nodige infrastruktuur gevestig word en ‘n land dinamies kan groei.

 

Die regerings en private sektor moet saamwerk en langtermynplanne onwikkel. Dit moet insluit:

  • Verbetering van die gehalte van onderwys en beroepsopleiding om jongmense toe te rus met die vaardighede wat werkgewers benodig;
  • Tegnologie wat werkgewers en werksoekers verbind om groei te bevorder en
  • Hulp vir entrepreneurs en klein besighede om uit te brei en toegang tot finansiële dienste te verkry.

 

Op hierdie manier word geleer, kennis gedeel en vindingryk opgetree om die talent van Afrika te ontgin en die jeug te mobiliseer.

 
Laai nuusbrief in PDF af