Die land se fokus is besig om al hoe meer te skuif na die stryd in die ANC en aanstaande jaar se verkiesing ten koste van die ekonomie en werkskepping.

 

Die verkiesing van president Cyril Ramaphosa was veronderstel om ‘n waterskeiding te wees wat die land tot ‘n markgerigte ekonomie sou lei waar grootskaalse werkgeleenthede geskep word.

 

Die Ramaphoria van die eerste kwartaal het egter in die tweede kwartaal verdwyn. Die sakesektor kon nie daarin slaag om die positiewe sentiment te omskep in nuwe besigheid nie en verbruikers het ook vertroue verloor.

 

Die afname in vertroue is duidelik te sien in die FNB en Buro vir Ekonomiese Ondersoek se vertrouensindeks vir verbruikers, wat van 26 punte in die eerste kwartaal tot 22 punte in die tweede kwartaal afgeneem het. Die SA Kamer van Koophandel en Nywerheid se indeks vir handelsaktiwiteite het ook van 40 punte in Mei tot 37 punte in Junie teruggesak.

 

Dit gaan nie maklik vir president Ramaphosa wees om ‘n dekade van ekonomiese wanbestuur en plundering van die staatskas te herstel nie. Die skade van die vorige bewind is baie groter as wat verwag is en sal eers ná die verkiesing daadwerklik aangespreek kan word.

 

In die tweede helfte van die jaar sal diens- leweringsbetogings en looneise ook na verwagting toeneem. In sekere streke, soos Hermanus waar by die R40 miljoen se skade aangerig is, het betogings die streeksekonomie reeds tot stilstand gedwing.

 

Verbruikers en besighede word lamgelê deur die politieke onsekerheid, swak wisselkoers en die petrolprys wat onverpoos bly styg.

 

Groot plaaslike maatskappye sit met berge kontant wat hulle weens die heersende ekonomiese en politieke onsekerheid nie wil belê nie. Volgens die Sentrum vir Mededinging, Regulering en Ekonomiese Aktiwiteite van die Universiteit van Johannesburg sit die JSE se top vyftig maatskappye met R1.4 triljoen wat bestee kan word. Dit ten spyte daarvan dat moeilike tye soms die beste beleggingsgeleenthede bied.

 

Net so is die besighede geneig om te veel op die doen en late van die regering te fokus, eerder as op die besigheid self. En al hoe meer mense raak toenemend afhanklik van die regering om vir hulle te sorg, eerder as om skouer aan die wiel te sit.

 

Tog is dit die verbruiker wie bepaal wat die vraag en dus die besteding in die ekonomie is. Daarom is persepsies en sentiment baie belangrik. Daar moet juis gewaak word teen oormatige pessimisme en veral teen populistiese neigings en anti-sake retoriek.

 

Hoewel dit moeilik gaan wees om die ekonomie weer op die been te bring, kan ons weer die wa deur die drif trek. Daar is baie geleenthede in die land wat benut kan word en verskeie redes waarom SA steeds belowende opsies vir belegging bied:

 

Ramaphosa kom sy beloftes na

In sy staatsrede is daar verskeie ondernemings deur president Ramaphosa gegee en ‘n ontleding toon dat hy reeds 70% van sy beloftes gestand gedoen het.

 

Grondwetlike demokrasie staan sterk

Die toesighoudende meganismes soos die howe en vrye media staan stewig en openbare debat word gevoer, soos met die gesprekke oor grondhervorming wat landwyd plaasvind.

 

Staatsondernemings word reggeruk

Raadslede met Gupta-bande by Eskom, SAA, SA Express, Transnet en Denel is onder meer verwyder en vervang met geloofwaardige sakelui met uitstekende kwalifikasies en werketiek.

 

Pragmatisme vind grondslag

Die landskap is besig om te verander en ons is geleidelik besig om ‘n nuwe pragmatiese manier te vind om dinge te doen en te beweeg van ‘n vrye mark na ‘n meer sinvolle gekontroleerde mark van toedeling.

 

Groot geleenthede in SA

Suid-Afrika bied baie vir beleggers. Ons is een van die vyf vinnigste groeiende ekonomieë in Afrika en is een van die gevorderdste ontwikkelende lande met die infrastruktuur van ‘n tipiese nywerheidsland. Dit is veral ons mededingende finansiële sektor, mineraleskatte en wetenskaplike standaarde wat die land aantreklik maak en wat verder ontsluit kan word.

 

Ons geskiedenis van wilskrag

Suid-Afrika het ‘n verlede van “kry dinge gedoen” soos die motorbedryf en hernieubare krag wat baie suksesvol in SA gevestig is.

 

Trek sokkies op

As almal hul sokkies optrek en harder werk, kan dit net voorspoedig gaan. In die Weskus word ‘n lewensles vertel van die pa wat sy seun vra om “geld” te spel. Die seun spel g-e-l-d en kry ‘n oorveeg. Jy spel “geld” as volg: w-e-r-k, sê sy pa, en die les het van sy seun ‘n baie suksesvolle sakeman gemaak.

 

Laai Nuusbrief af in PDF