Finansiële besluite, wat strek van die opvoeding van jou kinders tot die dag van aftrede, sal finaal die welstand van jou en jou gesin bepaal.

Hierdie besluite kan jou finansieel knou óf dit kan die weg baan tot ‘n sorgvrye lewenstyl en gemaklike aftrede. Vooropgestelde idees en beperkte kennis laat ons dikwels verkeerde finansiële besluite neem. Boonop neig ons om dieselfde foute te herhaal, want daar is geen onfeilbare padaanwysers op die gebied nie.

 

Met die regte leiding kan jy egter die slaggate vermy deur eerstens ‘n ontleding van jou volle risiko-situasie te laat doen, gevolg deur deeglike finansiële beplanning.

 

‘n Volledige risiko-profiel kyk na die volgende drie aspekte:

  1. Die mate van risiko wat nodig is om jou finansiële doelwitte te bereik, gegewe die beskikbare finansiële bronne;
  2. Risiko-kapasiteit: die mate van finansiële risiko wat die belegger kan bekostig om te neem, en
  3. Risiko-verdraagsaamheid: die vlak van finansiële risiko waarmee die belegger emosioneel gemaklik voel.

 

As die korrekte risiko-ontleding en die nodige finansiële beplanning rondom die risiko gedoen word, sal jy finansieel op koers bly.

 

Van die belangrikste vooropgestelde idees wat jou planne kan kelder of laat slaag is:

 

Medies — ek is gesond genoeg

Goeie gesondheid is jou welsyn, seker die belangrikste faktor in ‘n mens se lewe. Net 16.9% van huishoudings het volgens Statistieke SA verlede jaar siekefondse gehad en sowat 45 miljoen mense in Suid-Afrika het dit nie. Die nuwe nasionale gesondheidsorgstelsel wil goeie gehalte mediese dekking aan alle mense gee, maar die infrastruktuur om dit te doen, is in hierdie stadium nie naastenby voldoende nie.

 

Die veiligste is om self te sorg en mediese dekking en versekering teen gevreesde siektes te hê. As ‘n siekefonds te duur is, behoort jy minstens ‘n hospitaalplan met gapingsdekking uit te neem. Dit voorkom dat ernstige ongelukke of mediese situasies, soos kanker, nie jou finansiële ondergang en jou gesin se nagmerrie is nie.

 

Lewensversekering — ek sal niks oorkom nie

Afsterwe stel jou hele gesin bloot indien jy nie behoorlik voorsiening gemaak het nie. Dit geld vir mans, sowel as vroue. Die afgelope drie jaar het sterftes weens kardiovaskulêre siektes onder vroue met 50% toegeneem. Een uit elke vier vroue sal voor die ouderdom van sestig ‘n hartprobleem ontwikkel, volgens die Hart en Beroerte Stigting van SA.

Voldoende lewensdekking wat sal verseker dat jou gesin, en veral jou kinders, finansieel onafhanklik is ná jou dood, is noodsaaklik. Hou ook die koste van opvoeding in gedagte sodat jul drome vir die kinders se toekoms nie saam met jou sterf nie.

 

Spaar — ek weet niks van beleggings nie

Spaargeld skep kapitaal vir beleggings. Sonder om te spaar en vroegtydig te begin belê, sal jy nie jou lewenstandaard kan handhaaf nie. Dit kan jou ook beskerm as daar ingrypende verwikkelinge is, soos dat jy jou werk verloor of in ‘n ernstige ongeluk beland.

Tyd is hier meer belangrik as rand en sent. Oor ‘n tydperk van dertig jaar dra jou eie geld net 30% van ‘n gemiddelde opbrengs by, terwyl 70% kom van saamgestelde groei.

 

Skuld — leef vir die nou

Die Reserwebank verwag vyf rentekoersverhogings oor die volgende paar jaar. Skuld gaan dus duurder raak en kan ‘n bose kringloop word as skuld met skuld gedelg word. Inflasie neem ook toe — van 3.8% in Maart tot 4.6% in Junie en voedselinflasie was in Junie 3.1%. Die petrolprys staan op ‘n rekordvlak (R16.02 binnelands) en kan vandeesmaand met ‘n verdere 19 sent per liter styg. Met stygende pryse die norm, kan groeiende skuld ‘n eenrigtingpad tot ondergang wees.

 

Diversifiseer — ek belê net by my bank

Diversifikasie behels meer as net om jou geld by verskillende beleggingsmaatskappye te belê. Dit is ‘n bestuurstegniek om jou beleggings in so ‘n mate te versprei dat hulle elkeen verskillend reageer op verwikkelinge in die mark. So verminder jy jou algemene risiko, want al daal die mark, sal daar altyd beleggings wees wat voordeel uit die afswaai trek.

 

Aftrede — daar is nog baie tyd

Die gemiddelde lewensverwagting in SA is volgens die statistikus-generaal 64.2 jaar. Jy kan egter heelwat langer leef met goeie gesondheid en mediese sorg. Het jy genoeg geld vir die groeiende lewenskoste en veral die mediese uitgawes?

 

Riskante besluite en verkeerde advies — ek gaan vinnig ryk word

Moenie oordeelsfoute en riskante beleggings maak nie. Geld wat aan vriende en familie geleen word, kan dalk soos mis voor die son verdwyn. Verseker dat dit ‘n geregistreerde finansiële adviseur is wat jou beleggingsdoelwitte formuleer en moenie val vir vinnige geldmaakstories om die braaivleisvuur nie.

 

Hoewel jy soms in slaggate kan trap en kruispaaie deel van ons lewe is, is daar geen twyfel oor die langtermynvoordele van die korrekte besluite wat met insig gemaak is nie.

 

Laai Nuusbrief af in PDF