Deur Johan Coetzee. Konsultant van Ecsponent Financial Services

Dit is feitlik seker dat Suid-Afrika se staatskuld later in November verder afgegradeer gaan word en dat ons eersdaags vir minstens ses jaar in die rommel gaan wees.

Die skrif is aan die muur nadat die Minister van Finansies, Malusi Gigaba, die benarde situasie van Suid-Afrika in sy mediumtermyn-begrotingsrede uitgespel het.

Gigaba het ná afloop van sy begrotingsrede met kredietgradeerders vergader en ontmoet hulle aanstaande week weer. Ontleders sê egter die koeël is deur die kerk en volle afgradering kan reeds aanstaande maand gebeur.

Afgradering beteken Suid-Afrika word as ‘n hoë risiko beskou en kry nie meer ‘n gunstige rentekoers as geld uit die buiteland geleen word nie. Die koste van buitelandse skuld sal opskiet met lenings van sowat R50 miljard wat teen baie hoër leningskoerse beding moet word.

Standard & Poor’s en Fitch het reeds SA se buitelandse skuld tot rommel afgradeer en Moody’s blyk die volgende te wees. Standard & Poor’s en Fitch kan ons boonop nog verder afgradeer wat beteken ons beleggingstatus sal aansienlik moeiliker wees om te herstel.

Al wat die land nou kan doen, is om die skade ná afgradering aan die ekonomie te probeer beperk en so gou as moontlik aan die graderingsagentskappe se vereistes te voldoen.

Die private sektor het reeds die negatiewe uitwerking van die afgradering begin ervaar en maatskappye soos Pioneer Foods het bekend gemaak dat groot internasionale transaksies afgelas is weens ons afgradering en die hoë staatskuld.

Ons ekonomie is toenemend ‘n slagoffer raak van die politieke gevegte wat onverpoos voortwoed en die volgende paar maande nog meer intens gaan wees. Dit is vet op die vuur vir die graderingsagentskappe.

Die afgradering kan tot ‘n ommekeer in kapitaalvloei lei wat die rand kan laat verswak en die Reserwebank kan verplig om rentekoerse te verhoog.

Die groot bekommernis is voorts dat Suid-Afrika uit die Citi Group se wêreldindeks van effekte sal val wat groot kapitaaluitvloei en randverswakking sal meebring.

Afgradering sal dit ook vir staatsinstellings moeiliker maak om oorsee geld vir infrastruktuurprojekte te leen.

Maar hoe lank kan afgradering duur? Die afgelope dertig jaar is vyftien lande tot rommelstatus afgradeer. Dit het ‘n land gemiddeld sewe jaar geneem om weer beleggingstatus te herwin. Lande soos Kroasië en Letland het dit binne drie jaar reggekry, terwyl lande soos Indië, Turkye en Uruguay meer as ‘n dekade geneem het. Ontleders meen dat dit vir Suid-Afrika minstens ses jaar gaan neem om weer beleggingstatus te verkry.