In die Junie-uitgawe van Ecsponuus het ons gekyk na die voordele wat beleggings in klein maatskappye inhou – lees die artikel hier. Maar terwyl dit duidelik is dat daar voordele verbonde is aan beleggings in kleiner maatskappye, wat is dit wat hulle so voordelig maak vir beleggers wat in groeiende maatskappye wil belê?

 

Die voordele van klein kapitalisasie maatskappye

Stewige groei

Die moontlikheid is groot dat klein maatskappye se wins heelwat meer as medium en groot maatskappye sal wees. Soms het hulle net ‘n hupstoot tot op die volgende vlak nodig en die beste opsie is dikwels om aandele uit te reik, pleks daarvan om skuld te maak.

Minder binnegevegte

Groot maatskappye word ook gekenmerk deur faksies en gevegte in die binnekring. Klein maatskappye se fokus is weer op groei en om die maatskappy te vestig.

Skep baie werk

Klein maatskappye is die spierkrag van ons ekonomie en die meeste werk word geskep deur maatskappye wat jonger as vier jaar is.

Innovasie

As produk van die entrepreneur se inisiatief, skeppende denke en deursettingsvermoë is dit juis die kleiner maatskappy wat so dikwels nuwe produkte en konsepte loods.

Oornames

Klein maatskappye kan maklik deur grotes oorgeneem word. Dit is makliker vir ‘n groot maatskappy met baie geld om ‘n kleiner maatskappy oor te neem as om ‘n maatskappy van nuuts af te begin. Die groot maatskappy kan ‘n premie vir die aandele betaal wat beteken jou aandele kan oornag styg! Dít maak klein maatskappye veral gesog!

Die insluiting van klein kapitaal maatskappye in ‘n portefeulje sorg vir diversifisering met die potensiaal om opbrengste op die langtermyn aansienlik te vergroot.