Op dieslfde trant as ons Ecsponuus artikel getiteld, Vaste koerse al gewilder was dit interessant om te merk dat beleggers al hoe meer onttrek van groot fondsbestuurders weens swak markomstandighede en fondse wat nie goeie opbrengste lewer nie.

Coronation, een van die grootste fondsbestuurders in die land, se inkomste het byvoorbeeld met 6% gedaal tot R1,9 miljard en die wins met 5% tot R763 miljoen volgens die halfjaarsyfers tot einde Maart.

Anton Pillay, uitvoerende hoof, het aan Die Burger gesê die daling in wins en inkomste is grootliks toe te skryf aan die netto uitvloei van R30 miljard uit sy portefeuljes waarin aftreegeld bestuur word.

Hy het dit toegeskryf aan die aftreemark in Suid-Afrika wat in geheel ‘n netto uitvloei ervaar het. Dit beteken Suid-Afrikaners onttrek meer geld uit hul aftreefondse as wat inbetaal word.

Die daling in bates onder bestuur is volgens hom weens die sluiting van drie van sy institusionele portefeuljes wat bykans 80% van sy institusionele bates verteenwoordig het.

Die beleggingsbedryf het oor die afgelope vier jaar gemiddeld ‘n netto invloei van R50 miljard gehad. Dit het afgeneem tot ‘n netto invloei van R4 miljard in die afgelope ses maande tot einde Maart.

Hy het die kleiner invloei van gewone beleggers toegeskryf aan die ekonomiese toestande wat veroorsaak dat mense minder spaar asook weens werkloosheid.

Coronation is steeds een van die grooste fondsbestuurders van gewone beleggers se geld, maar sy markaandeel het van 15,2% einde Maart 2015 tot 12,8% gedaal.

Die maatskappy het goeie groei ervaar en verlede jaar vir die eerste keer ‘n netto uitvloei beleef.

Einde Maart het Coronation R226 miljard se bates van gewone beleggers onder bestuur gehad.